
Is Jack Parow cooler as Kurt Darren? Facebook-aanhangers dink so.
“Ek sal nooit dat my eie kinders na my musiek luister nie.”
Só sê die Afrikaanse rapper Jack Parow, wat nou beplan om ’n vloeklose weergawe van sy album uit te bring “sodat die kinders ook daarna kan luister”.
Parow, oftewel Zander Tyler (28) as hy by die huis is, meen daar’s baie tannies wat kla hul kinders hou ook van sy musiek, maar mag weens sy vloekery nie daarna luister nie.
“Ek neem hulle nie kwalik nie. Ek sal ook nie dat my eie kinders na my musiek luister nie. Daar’s baie aanvraag, daarom wil ek ’n skoon weergawe van my CD uitbring waar die vloekwoorde uitgehaal word, soos die radiostasies dit doen, dalk ’n biep of so iets insit – die enigste fokop is dat byna die hele liedjie sal biep.”
Vir hom gaan dit nie daarom om met ’n gesuiwerde weergawe ’n groter mark vir verkope te bereik nie, maar “om my musiek vir mense van alle ouderdomme wat dit woes laaik toeganklik te maak”.
Intussen word hy so “woes gelaaik” op Facebook dat hy nou al meer volgelinge as die sangsensasies Kurt Darren en Steve Hofmeyr het. Parow het nou meer as 78 500 Facebook-aanhangers, terwyl Hofmeyr sowat 61 000 en Darren sowat 45 000 het.
“Dít was my enigste droom: om Kurt Darren op Facebook te optefok. Dít en om op die voorblad van Huisgenoot te wees. Ek’s nou klaar met rapping, my ou, nou kan ek aftree!”







